Zuma sal getuig in wapenondersoek
2011-11-01 11:07
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma het op 'n sake-ontbyt gesê hy sal getuig in die ondersoek na die regering se multimiljardrand wapentransaksie
"Natuurlik, enigiemand wat geroep word, sal na die kommissie gaan om te getuig wat jy weet en wat jy nie weet nie," het Zuma Dinsdag op 'n sake-ontbyt van The New Age in Kaapstad gesê.
Zuma het gesê baie mense is onder die indruk dat jy "baie weet wanneer jy niks weet nie".
Hy het in September aangekondig dat 'n kommissie van ondersoek na die wapentransaksie aangestel gaan word.
Zuma is aangekla van korrupsie nadat daar bevind is dat sy finansiële raadgewer, Schabir Shaik, wat 'n tender gehad het om 'n gedeelte van die wapens te verskaf, omkoopgeld van 'n Franse maatskappy, wat deel van die transaksie was, aan Zuma betaal het.
Shaik is uit op mediese parool nadat hy 15 jaar tronkstraf opgelê is.
Die aanklagte teen Zuma is teruggetrek kort nadat hy ingesweer is as president weens beweerde inmenging by die ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA