Zuma ruk Malema in die bek
2010-04-10 18:05
Durban - Pres. Jacob Zuma het die leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, gemaan oor sy omstrede uitlatings en optrede.
Zuma het Saterdag tydens 'n perskonferensie gesê leiers binne die ANC moet "dink voor hulle praat, omdat hulle uitlatings implikasies vir die hele land tot gevolg het."
Die president het die jeugligaleier ook gekritiseer vir die wyse waarop hy 'n BBC-joernalis gehanteer het, onlangse uitlatings in Zimbabwe en vir die sing van 'n lied uit die struggle-era wat as haatspraak bestempel kan word.
Die ANC-leier het egter nie Malema uit die party of sy posisie geskors nie.
Plaaslike verkiesings is op pad, en die ANC-jeugliga is bekend daarvoor dat hulle talle stemme vir die ANC werf.
Malema het Jonah Fisher, 'n BBC-joernalis, ‘n “bliksem” en ‘n “agent” genoem voor hy hom Donderdag uit 'n konferensie by Luthuli-huis in Johannesburg gejaag het.
Die ANC het Vrydag gesê die jeugliga ondermyn Suid-Afrika se diplomatieke pogings in Zimbabwe ná die liga gesê het hy ondersteun pres. Robert Mugabe se Zanu-PF-party.
Malema het ook 'n struggle-lied met die woorde "Skiet die Boere" tydens sy besoek aan Zimbabwe gesing, ten spyte van 'n hofinterdik wat die sing van dié lied verbied.
- AP