Zuma praat oor verdeeldheid in ANC
2012-12-16 14:03
Bloemfontein – Die aanloop tot die ANC se laaste nasionale konferensie vyf jaar gelede was deurtrek van verdeeldheid, het pres. Jacob Zuma Sondag gesê.
"Die pad na Polokwane was stormagtig en vol verdeeldheid," het hy tydens sy politieke verslag gesê.
"Dit was nodig dat ons daaraan werk om die organisasie weer heel te maak en ná die konferensie het ons gewerk aan eenheid."
Zuma is by die konferensie in Polokwane tot president verkies nadat oudpres. Thabo Mbeki ontsetel is.
Hy het gesê die nuwe leierskap wat in Polokwane verkies is, moes elke provinsie besoek om die verdeeldhede te laat verdwyn.
"Sommige suksesse is bereik, maar sommige provinsies het steeds faksionalisme en onenigheid."
Zuma het vroeër gesê die ANC het fenomenale groei getoon sedert die laaste nasionale konferensies.
"[Altesaam] 4 500 afgevaardigdes wat duisende takke van regoor die land verteenwoordig, is hier teenwoordig," het Zuma gesê.
"Die ANC het groei sedert die laaste twee konferensies."
Zuma het gesê die party het tans sowat 1,22 miljoen lede in goeie stand.
"Daar mag dalk nog wees wat vergeet het om hul kaarte te hernu," het Zuma geskerts.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA