Zuma pak Cele oor huurkontrakte
2011-09-22 20:05
Johannesburg – President Jacob Zuma het Generaal Bheki Cele, nasionale polisiekommissaris, gevra waarom hy nie geskors moet word nie terwyl ‘n ondersoek na twee polisie-huurkontrakte aan die gang is, het die presidensie Donderdag gesê.
Mac Maharaj, woordvoerder, het gesê Zuma het dié kennisgewing op 29 Augustus gestuur.
“In terme van die kennisgewing het die president die nasionale kommissaris ingelig dat hy van plan is om ‘n ondersoek te loods na bewerings van wangedrag in verband met die vasmaak van albei huurkontrakte ná die bevindinge van die openbare beskermer,” het Maharaj gesê.
“Die nasionale kommissaris is ‘n geleentheid gegun om voorleggings te maak oor waarom die president hom nie moet skors terwyl die uitkoms van die ondersoek hangend is nie.”
Hy het gesê Cele het sedertdien op omvattende wyse op Zuma se kennisgewing gereageer en die president oorweeg Cele se voorleggings.
“Die nasionale kommissaris werk volledig saam met die president in hierdie proses,” het Maharaj gesê.
“Die president is op die oomblik in gesprek met... Cele oor die kwessies wat hom in die twee verslae aangaan,” het hy gesê.
Die meeste van die kwessies waaraan Zuma werk, kan nie volledig bespreek word sonder om vooroordeel teen die geraakte partye te skep nie.
“Hy sal aanhou om die volledige proses te volg om te verseker dat kwessies opgelos word deur korrekte prosedures,” het Maharaj gesê.
Thuli Madonsela, openbare beskermer, het bevind twee huurkontrak-ooreenkomste met die sakeman Roux Shabangu vir kantoorruimte in Pretoria en Durban is op onwettige en onvanpaste wyse voltrek.
Sy het Cele en Gwen Mahlangu-Nkabinde verantwoordelik gehou.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA