Zuma optimisties oor 2012
2011-12-30 13:59
Johannesburg – Die jaar het beter geëindig as wat dit begin het, het pres. Jacob Zuma Vrydag gesê.
"Ons het merkbare vooruitgang gemaak in die vermindering van ernstige en gewelddadige misdaad, in die verbetering van gesondheidsorg, landelike ontwikkeling, onderwys, sosiale sekuriteit en die algemene uitbreiding van toegang tot basiese dienste," het hy in 'n verklaring gesê.
Die regering se planne vir werkskepping en die verbetering van infrastruktuur is ook genoem. 'n Ander hoogtepunt was die COP17-klimaatberaad, wat in Durban plaasgevind het.
Zuma het Suid-Afrikaners gevra om 2012 'n jaar van eenheid te maak, en om die land se politieke geskiedenis te vier.
"Ons het 'n geleentheid om met ons land se ongelooflike suksesverhale te spog, gegewe die historiese eeufees van die regerende party op 8 Januarie 2012.
"Ons land het aan die wêreld bewys dis moontlik om bo sistematiese rassisme, koloniale onderdrukking en apartheid uit te styg," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA