Zuma-opnames byna afgehandel
2009-08-27 09:16
Johannesburg – Die ondersoek na die geheime bandopnames wat moontlik tot pres. Jacob Zuma se vrylating gelei het, is byna op 'n einde, het The Star Donderdag berig.
Zolile Ngcakani, die inspekteur-generaal van intelligensie, het gesê dat die ondersoek nou in sy finale fase is.
Die uitkoms van die ondersoek sal aan die regering se ministers van sekuriteit en die parlement se staande komitee oor intelligensie bekendgemaak word.
Die saak oor die geheime opnames het in April begin nadat uittreksels van telefoonopnames as bewys gedien het dat Leonard McCarthy, die destydse baas van die Skerpioene, politieke instruksies gekry het oor die tydsberekening om Zuma weer in 2007 aan te kla.
Afskrifte van die opnames, wat in die hande van Zuma se regspan beland het, het daartoe gelei dat Mekotedi Moshe, die hoofaanklaer, die saak teen Zuma laat vaar het op die gronde dat dit beïnvloed is deur sogenaamde politieke inmenging.
- Sapa