Zuma ontken bewerings oor sakeman
2011-08-03 09:22
Kaapstad – Dit is ’n mite dat die sakeman Roux Shabangu ’n persoonlike vriend van hom is, het pres. Jacob Zuma gister gesê.
Hy het ook ontken hy het Geoff Doidge, gewese minister van openbare werke, verlede jaar afgedank om die weg te baan vir die bekragtiging van die omstrede huurooreenkomste vir polisie-kantore.
Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het gister namens Zuma gereageer op meningstukke en mediaberigte.
Daarin is beweer Gwen Mahlangu-Nkabinde is as Doidge se opvolger aangestel met die uitsluitlike doel om die betrokke huurooreenkomste goed te keur.
“Dit is alles gegrond op gissings dat (Roux) Shabangu, dié geboue se eienaar, ’n vriend van die president is”, het Maharaj gesê. “Die president ken Shabangu skaars en enige verklarings wat die teendeel beweer, is vals.”
Die presidensie het gesê daar is ook “geen verband” tussen Doidge se ontslag en Mahlangu-Nkabinde se aanstelling nie.
Doidge, wat sy pos ná ’n kabinetskommeling op 31 Oktober kwyt is, het in 2010 ’n huurkontrak met Shabangu vir ’n polisiehoofkwartier in Pretoria opgeskort. Dit was nadat hy ’n regsmening ingewin het wat die ooreenkoms ongeldig verklaar het.
Mahlangu-Nkabinde, wat Doidge opgevolg het, het dieselfde kontrak egter kort ná haar aanstelling weer bekragtig.
Adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer, het in twee verslae bevind dat die nasionale polisiehoof, genl. Bheki Cele, en Mahlangu-Nkabinde onregmatig opgetree het met die sluit van huurooreenkomste vir polisiegeboue in onderskeidelik Pretoria en Durban.
“Die besluite wat geneem word, moet op feite gegrond wees. Die regering handel nie sonder om inligting wat voor hom dien te bevraagteken nie,” het die presidensie gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger