Zuma 'ondersteun onafhanklike media'
2011-08-05 17:20
Pretoria – Pres. Jacob Zuma het benadruk dat dit belangrik is om onafhanklike media te hê waar perspektiewe vrylik uitgedruk kan word.
“Ons benadruk ons toewyding aan mediavryheid... en bevorder die regte van mediavryheid vir beide die publiek en gebruikers van mediaprodukte...” het Zuma Vrydag aan media-eienaars gesê.
Die president het dié geleentheid in Pretoria “die eerste hoë-vlak beraad” tussen die regering en media-eienaars genoem.
“Ons het almal ‘n verantwoordelikheid om te streef na die ontwikkeling van ‘n vrye en onafhanklike media.”
Die wet en tribunaal
LP’s is tans besig om die Wet op die Beskerming van Inligting te finaliseer en die ANC bespreek die opstel van ‘n media-appèltribunaal.
Die regering se ingryping word deur talle beskou as ‘n poging om die media se mond te snoer.
Die tribunaal sal die regering beheer oor die media gee. Die regering sal dan gedrukte- en elektroniese media kan reguleer.
Die wet sal egter die regering die mag gee om inligting in die “nasionale belang” te klassifiseer.
Zuma het Vrydag nie dié kwessies bespreek nie.
Hy meen die media moet nie deur politieke of kommersiële belange beïnvloed word nie.
Hy het ook gepraat oor die belangrike rol wat die media speel om demokrasie, diversiteit en transformasie te bevorder.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA