Zuma 'onderskat SA'ners se intelligensie'
2012-10-21 14:44
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma onderskat Suid-Afrikaners se intelligensie, het Bantu Holomisa, leier van die United Democratic Movement, Sondag gesê.
"Hy mislei die land," het Holomisa in 'n verklaring gesê.
Holomisa het reageer op 'n mediaberig oor opgraderings aan Zuma se huis in Nkandla.
"President Zuma bou nie 'n veilige huis vir sy aftrede nie. Hy bou 'n privaatdorp van 25 huise, teen R2,6 miljoen elk, en gebruik belastingbetalers se geld."
Vyf dae voor Zuma 'n beroep op uitvoerende hoofde gedoen het om hul salarisse te vries, het die departement van openbare werke die betaling van miljoene rande aan die kontrakteurs wat bouwerk in Nkandla doen, goedgekeur, berig City Press.
Die koerant beweer hy het afskrifte van dokumente van die departement van openbare werke, wat toon dat die multi-miljoenrand-betalings aan nege maatskappye gemaak is.
City Press het vroeër berig dat R203 miljoen van belastingbetalers se geld sal gebruik word vir die opgraderingswerk en dat Zuma slegs 5% van die rekening – sowat R10 miljoen – sal betaal.
Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het op 5 Oktober gesê die opgraderingswerk by Zuma se huis is nie uniek nie.
Die departement het ook gesê maatreëls in die ministeriële handboek kan nie gebruik word as maatstaf vir die staatshoof nie, omdat die president se benodigdhede meer is as dié van gewone ministers.
"Ons wil dit duidelik stel dat die ontwikkeling by Nkandla nie uniek is aan hierdie perseel nie; dit is dieselfde as die werk wat by enige van die ander soortgelyke eiendomme gedoen word," het Nxesi gesê.
Volgens City Press is die grootste begunstigde van die Nkandla-opgradering die sakevrou Thandeka Nene se Bnelena Construction Enterprise and Projects. Die maatskappy is twee kontrakte van onderskeidelik R33,4 miljoen en R66 miljoen werd.
Holomisa het gesê dit is skokkend dat een diensverskaffer meer as R99 miljoen gegee is om te spandeer en dat die ANC die land 'n verduideliking verskuldig is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA