Zuma nie tevrede met SA, sê Manuel
2011-07-20 08:00
Sasolburg - Pres. Jacob Zuma is nie tevrede met Suid-Afrika nie en daarom is die nasionale beplanningskommissie (NBK) in die lewe geroep.
“Die president het opdrag gegee dat die NBK ’n behoorlike ontleding van maatskaplike en ekonomiese uitdagings in Suid-Afrika doen. Die Suid-Afrika wat ons vandag het, is nie die Suid-Afrika waarop ons gehoop het nie,” het Trevor Manuel, minister in die presidensie en hoof van die NBK, Dinsdag hier gesê.
Manuel en van die lede van die kommissie is op ’n uitgebreide landwye toer om die bevindinge van die navorsing wat gedoen is in elke provinsie aan inwoners van die provinsie te verduidelik en bydraes te vra.
Manuel het gesê die grootste uitdaging wat uit die navorsing na vore getree het, is die swak gehalte van onderwys en die lae geletterdheidsvlak in veral arm, swart gemeenskappe. Dit en die hoë werkloosheidsyfer is twee van die uitdagings wat onmiddellike aandag moet kry.”
Manuel sê armoede in Suid-Afrika vier hoogty met 48% van Suid-Afrikaners wat onder die bestaansminimum leef en dus minder as R524 per maand verdien.
“Swart Suid-Afrikaners het in 2009 gemiddeld R454 per maand bestee, terwyl wittes R5 668 per maand bestee het.
“Ongelykheid in inkomste binne die swart bevolking het sedert 1995 skerp toegeneem.”
Die NBK skryf die hoë werkloosheidsyfer toe aan jare lange kolonialisering en apartheid, wat swart Suid-Afrikaners verhinder het om sake-ondernemings te bedryf en grond te besit.
“Een van apartheid se grootste misdade was die substandaard-onderwys aan swart mense”
Altesaam 25,4% Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 15 en 65 is werkloos. Die grootste werkloosheid kom voor tussen die ouderdomme van 15 tot 24 (51,3%) en 25 tot 34 (29,1%).
Manuel het gesê die NBK gaan op 11 November ’n volledige regrukplan bekend maak, maar die inwerkingstelling daarvan hang van die verskillende vlakke van regering af.
“Ons gee die syfers en die planne. Die uitvoering daarvan is in die hande van die verskillende departemente op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlakke.”
Hy het gesê Zuma wil juis die NBK se werksaamhede so ver as moontlik in die openbare domein hou sodat politieke leiers verantwoordbaar kan wees aan die burgers van die land.
Manuel het daarop gesinspeel dat die media die verantwoordelikheid het om ampsdraers op hulle tone te hou, deur voordurend verslag te doen oor hul werksaamhede.
“Die ideaal is dat ons teen 2030 so na as moontlik aan ’n perfekte Suid-Afrika is.”
Die Vrystaatse premier, Ace Magashule, het gesê die Vrystaat sal beslis die uitdagings wat deur die NBK uitgewys is, aanpak en wanneer die regrukplan in November bekend gemaak word, sal die Vrystaat die provinsie wees wat dit die beste in werking sal stel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad