Zuma-neef ‘te vet om te getuig’
2011-11-04 10:10
Khulubuse Zuma, een van Aurora Empowerment Systems se omstrede direkteure en neef van pres. Jacob Zuma, is glo weens onder meer vetsug te sieklik om in Pamodzi Gold se insolvensieverhore te getuig.
Zuma het net een nier en weens sy vetsug het hy glo ook hartprobleme, het sy regsverteenwoordiger gister aangevoer.
Hy kon dus weens sy mediese toestand gister weer nie getuig nie. Die verrigtinge moes weer eens uitgestel word, het Gideon du Plessis, adjunk- uitvoerende hoof van die vakbond Solidariteit, in ’n verklaring gesê.
Zuma en die ander direkteure van Aurora wat daarvan beskuldig word dat hulle die Grootvlei-myn aan die Oos-Rand en die Orkney-myn buite Orkney van bates van sowat R1,7 miljard gestroop het, moet ingevolge art. 417 en 418 van die Maatskappywet voor die meester van die hooggeregshof in Pretoria oor die insolvensie van Pamodzi Gold (Grootvlei en Orkney se moedermaatskappy) getuig.
Zuma se getuienis is vroeër tot gister uitgestel omdat hy by sy vorige verskyning geweier het om in Engels te getuig en op ’n tolk aangedring het.
Dit het gister in die verhoor ook aan die lig gekom dat Zuma en sy regsverteenwoordiger nog nie met mekaar oor die ondervraging beraadslaag het nie, lui Du Plessis se verklaring.
Johan Engelbrecht, een van Pamodzi Gold se likwidateurs, het aangebied om ’n dokter te reël om Zuma se toestand by die hof te monitor, maar die aanbod is van die hand gewys.
Intussen is twee dae se koste vir tolkdienste aangegaan vir Zuma se ondervraging, maar dié geld is nou vermors, het Du Plessis gesê.
Farook Moosa, regsadviseur van Zondwa Mandela, besturende direkteur van Aurora, het vroeër vandeesweek ook aangevoer dat Mandela “te siek” is om in dieselfde insolvensie-ondervraging te getuig.
Solidariteit het gesê die aanstelling van Michael Hulley, ook een van Aurora se direkteure, as deeltydse regsadviseur vir die presidensie is ’n klap in die gesig van sowat 5 300 voormalige Aurora-werknemers en hul gesinne wat weens die direkteure se toedoen in armoede gedompel is.
Solidariteit meen die aanstelling is onsensitief en weerspieël ’n gebrek aan oordeel. Dit bevestig ook Solidariteit se aanname dat die Aurora-direkteure blykbaar politieke vrywaring het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld