Zuma 'n 'selfversekerde leuenaar'
2010-02-12 12:36
Johannesburg – Die Cope-jeugbeweging het president Jacob Zuma ‘n “selfversekerde leuenaar” genoem nadat hy in sy staatsrede gesê het dat 480 000 werksgeleenthede verlede jaar geskep is.
“Ons weet dit is nie waar nie en glo die president kan slegs gekategoriseer word as ‘n selfversekerde leuenaar wat dit doen met ‘n glimlag,” het die jeugbeweging Vrydag in ‘n verklaring gesê.
“Hy het ‘n ongebalanseerde, skaamtelose toespraak gelewer met opgemaakte feite.”
Die verklaring het gesê dat die president se “skokkende verdraaiing” van sy eie 2009-staatsrede oor die belofte van 500 000 werksgeleenthede nie ‘n fout was nie.
“Hy het gesê dat die regering beplan om sowat 500 000 werksgeleenthede te skep en dat dit nie verwys na die uitgebreide openbare-werke-program nie.
“Ons sien dit nie as ‘n fout nie, maar eerder as ‘n teken van verwarring en die president se tekort van verstaan van die ekonomiese krisis en die effek daarvan op die wêreld.”
Zuma se nalating om die oneffektiwiteit van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap te noem, het weereens getoon dat die jeug tweede op die regering se agenda sal wees, het dié beweging gesê.
Cope se jeug was teleurgesteld oor die “vlak, vae en flou toespraak wat gewig gekort het oor prominente kwessies wat die mense raak”.
- Sapa