Zuma mors miljoene met Zambië uitstappie
2010-03-06 09:39
Kaapstad - Altesaam 76 staatsamptenare het pres. Jacob Zuma en sy tweede vrou, mev. Nompumelelo (MaNtuli) Zuma, verlede jaar op ’n driedaagse besoek aan Zambië vergesel.
Dít blyk uit ’n antwoord op ’n parlementêre vraag van Kenneth Mubu, DA-woordvoerder oor internasionale betrekkinge.
Ses ministers, twee adjunkministers en “amptenare van verskeie staatsdepartemente” was deel van die afvaardiging wat Zambië van 7 tot 9 Desember besoek het.
Nie minder nie as 27 amptenare het uitsluitlik vir Zuma en sy vrou se gerief saamgereis.
Dit sluit in vyf beamptes wat met protokol gemoeid was, vier mediese personeellede, drie persoonlike sekretarisse en twee “persoonlike helpers” vir die presidentspaar.
Die besoek – wat die belastingbetaler R1,6 miljoen uit die sak gejaag het (vlugkoste uitgesluit omdat die syfers nog nie beskikbaar is nie) – was daarop gemik om “politieke, ekonomiese en maatskaplike samewerking” tussen Suid-Afrika en Zambië te bevorder.
Mubu het gister by navraag aan Die Burger gesê dit is ’n “absolute verkwisting” van belastingbetalersgeld – veral as in ag geneem word dat geen noemenswaardige ooreenkomste uit die besoek gespruit het nie.
Volgens die presidensie is twee samewerkingsooreenkomste en vier memorandums van verstandhouding onderteken.
Mubu meen die voordele van die besoek is nie naastenby genoeg nie – veral omdat memorandums nie bindend is nie.
“Alles aan die besoek was oordadig – die geld wat bestee is en die klomp mense wat saamgereis het. Ek kry die indruk die president wou maar net sy ou makkers in Zambië gaan besoek.”
– Die Burger