Zuma moet ja sê vir Zille-debat, meen jeug
2012-10-29 17:50
Johannesburg – Byna tweederdes van jong Suid-Afrikaners dink pres. Jacob Zuma moet die DA-leier, Helen Zille, se uitdaging vir 'n debat aanvaar.
"Jongmense is gretig om 'n openbare debat oor Suid-Afrika se politiek tussen Zille en Zuma te sien," het Shirley Wakefield van Pondering Panda, ’n verbruikersnavorsingsmaatskappy, gesê.
Altesaam 64% van die respondente het gesê Zuma moet Zille se uitdaging aanvaar, terwyl 27% gesê het hy sal sy tyd mors. 9% kon nie besluit nie.
Zuma het vroeër vandeesmaand 'n versoek van Zille van die hand gewys vir 'n openbare debat oor die stand van die ekonomie.
Altesaam 2 874 mense tussen die ouderdomme van 18 en 34 regoor Suid-Afrika het deelgeneem aan die opname. Alle onderhoude is tussen 22 en 24 op selfone met MXit-gebruikers gedoen.
In terme van ras, het 77% van witmense, 81% van bruinmense en 74% van Indiërs gevoel Zuma moet Zille se uitdaging aanvaar. Dít in vergelyking met 61% van swartmense.
Op die vraag oor wie hulle as hul volgende president wil hê, het 32% vir Zuma gekies en 24% vir Zille. Altesaam 36% het egter albei kandidate verwerp en 8% kon nie besluit nie.
Die meeste witmense (62%) en bruinmense (53%) het gesê Zille moet eerder die land se volgende president wees. In teenstelling daarmee, het 38% van swartmense en 41% van Indiërs nie een van die kandidate gekies nie.
"Indien ons leiers die stemme van die jeug wil wen, moet hulle openbare debatte doen om dit te kry," het Wakefield gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA