Zuma moenie godsdiens misbruik, sê NG Kerk
2011-05-05 07:32
Johannesburg - Die NG Kerk het Woensdag ’n ernstige beroep op pres. Jacob Zuma gedoen om op te hou om godsdiens te misbruik om stemme te werf.
Die kerk se boodskap aan Zuma en ander politieke leiers is dat as politieke leiers hulle nie van dié praktyk distansieer nie, sal die kerk kiesers aanraai om vir ander partye te stem wat godsdiens nie so misbruik nie.
Prof. Piet Strauss, moderator, en dr. Ben du Toit van die kerk se parlementêre lessenaar, sê in ’n verklaring hulle weet die NG Kerk het in die verlede dieselfde foute gemaak, maar hulle is bekommerd oor kerklui en politici wat God se steun vir hul party opeis.
Die jongste voorval is een “waarin ’n pastoor as’t ware vir Zuma seremonieel gesalf het en Romeine 13 op ’n onverantwoordelike wyse misbruik het om volgehoue steun vir die ANC aan kiesers op te dring”.
Dít, sê Strauss en Du Toit, oorskry alle perke van verantwoordelike teologie, verantwoordelike gebruik van die Bybel en verantwoordelike werwing van steun vir die party.
Hulle vra Zuma om leierskap te toon deur saam te waak teen die misbruik van die Naam van God op dié manier. Slegs dán sal almal in die land saam kan sing “Nkosi sikelel’ iAfrika”.
Die Apostoliese Geloofsending (AGS) het in ’n verklaring ’n beroep op Christene gedoen om te gaan stem. Dit is hul reg en verantwoordelikheid om ’n korrupsievrye en verantwoordelike regering te verkies, sê die AGS.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld