Zuma, minister vergader oor De Doorns
2012-11-14 09:21
Johannesburg – Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, en pres. Jacob Zuma sal Woensdag vergader oor die plaaswerkerstaking.
"Die plaaswerkers het die minister gevra om in te gryp en met die president te praat oor hul eise," het Palesa Mokomela, Joemat-Pettersson se woordvoerder, gesê.
"Joemat-Pettersson sal basies as hul boodskapper optree wanneer sy hopelik vandag met die president vergader. Sy sal die regering vra vir 'n herbepaling van plaaswerkers se lone."
Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het gesê hy is bewus van die vergadering, maar wou nie kommentaar lewer nie, omdat dit 'n interne kwessie is.
Plaaswerkers in die Hexriviervallei het verlede Maandag begin staak en eis 'n daaglikse loon van R150 en beter werkstoestande. Die meeste plaaswerkers verdien tussen R69 en R75 'n dag en die meeste wat boere aanbied is R80.
Volgens nuusberigte word betogings in 16 dorpe gehou. Verskeie werkers is in hegtenis geneem vir openbare geweld.
Joemat-Pettersson het Woensdag 'n beroep op die departement van arbeid gedoen om in te gryp by die plaaswerkerstaking.
"Ek kan nie die kommissie vir indiensneming beïnvloed nie," het Joemat-Pettersson Woensdagoggend aan SAfm gesê.
"Dit is 'n kwessie vir die departement of die minister van arbeid. Ons het gedoen wat ons kon as die departement van landbou en ons sal steeds die werkers ondersteun."
Sy het gesê sy het gehelp om die verhoudings tussen stakende plaaswerkers en boere te herstel.
"Ek dink ons het opgetree as 'n fasiliteerder om toe te sien dat die onderhandelings op koers bly. Ons kan nie werkverlies in die sektor bekostig nie, dit is hoekom ons besluit het om te help om die situasie te normaliseer."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA