Zuma mik dwarsklap na ANC-jeugliga
2010-08-30 08:06
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma het die naweek in ’n huldeblyk gewaarsku dat individue in die ANC die partyleiers se kollektiewe besluite moet aanvaar en respekteer.
Zuma het Saterdag ’n toespraak in die St. George-katedraal hier in Waalstraat gelewer ten tyde van die gedenkdiens van die ontslape veteraanpolitikus en voormalige adjunkminister, Joe Matthews.
Matthews, die pa van me. Naledi Pandor, minister van wetenskap en tegnologie, is vroeër die maand in die ouderdom van 81 aan natuurlike oorsake dood.
Zuma het Matthews se karaktereienskappe as voorbeeld gebruik van hoe ANC-kaders hulle behoort te gedra.
“?’n Individu moet altyd gehoorsaam wees aan kollektiewe besluite.
“Tweedens: die minderheid moet onthou dat die meerderheid seëvier.”
Hy het voorts gesê jong mense behoort hul seniors te respekteer. Dít is waarskynlik ’n bedekte klap na die ANC-jeugliga se uitinge verlede week tydens hul nasionale hoofraadsvergadering in Midrand.
Die jeugliga het gewaarsku dat geen ANC-leier seker kan wees dat hy vir ’n tweede termyn ’n leiersposisie sal beklee nie.
Zuma het in sy toespraak ook harde woorde vir stakende werkers gehad – al het hulle, volgens hom, die reg om vir hoër salarisse te staak.
Hy het gesê die regering verstaan volkome dat werkers gefrustreerd is met die nalatenskap van lae salarisse vir sommige werkers – “iets wat die demokratiese regering ná 1994 geleidelik probeer oplos” het.
“Maar dit is moeilik om begrip te toon wanneer pasiënte, babas in broeikaste en skoolkinders agtergelaat word, maak nie saak hoeveel simpatie ’n mens met die behoeftes van werkers het nie,” het Zuma gesê.
volg Nuus24 op Twitter.