Zuma-lyn: DA wag 10 ure
2009-10-07 17:39
Kaapstad - Die DA kon in die afgelope twee weke nie een oproep na pres. Jacob Zuma se blitslyn deurkry nie.
Die opposisieparty se hoofsweep, Ian Davidson, het Woensdagmiddag in ’n verklaring gesê sy party het oor 'n 13-dag periode rondom 10 ure op dié lyn spandeer sonder om deur te kom.
Volgens Davidson kon die party oor 'n tydperk van drie weke slegs vier klagtes met behulp van die lyn lê.
Die operateurs het egter nooit verwysingsnommers vir die oproepe gestuur sodat dit opgevolg kon word nie, ten spyte van verskeie beloftes dat dit wel gedoen sou word, het Davidson gesê.
Die party het Zuma se hulplyn 42 keer oor 13 dae gebel en vir 572 minute aangehou om met ’n operateur te probeer praat, het die verklaring gelees.
Zuma het die hulplyn Woensdag weer bekendgestel.
Sommige mense sukkel om na die blitslyn deur te kom weens hoë volume oproepe, het die president gesê.
"Ons is besig om aan die probleem te werk sodat alle oproepe die aandag kry wat hulle verdien,” het Zuma tydens die herbekendstelling in Pretoria gesê.
- Sapa