Zuma kry 40 oproepe ’n minuut
2009-09-14 15:01
Johannesburg - President Jacob Zuma se nuwe klagtelyn het Maandagoggend 7261 oproepe in drie ure ontvang.
Dit kom neer op nie minder nie as 40 oproepe per minuut.
Die lyn was aanhoudend beset toe Nuus24 probeer bel het.
"Ons sien ’n hoë oproepvolume en spandeer vandag daaraan om tegniese probleme op te los," het ’n woordvoerder vir die president, Vusi Mona, in ’n verklaring gesê.
’n Span van 40 hulplynoperateurs het oproepe in al 11 amptelike landstale hanteer en sowat 15-20 minute per oproep spandeer.
Klagtes is na die relevante regeringsdepartement en provinsiale regerings deurgevoer, het Mona gesê.
Die tolvrye hulplyn beoog om teen einde-September ten volle operasioneel te wees.
Dié langverwagte tolvrye presidentsklagtelyn is Maandag van 09:00 tot 16:00 beskikbaar.
Zuma se kantoor beloof dat beswaardes binne 36 uur terugvoer kan verwag.
Volgens Mona sal Suid-Afrikaners teen Oktober van 08:00 tot 22:00 kan bel, wanneer die personeel in skofte sal werk.
Bykans ’n 100 mense sal teen dan die oproepe hanteer.
- Sapa