Zuma kom kuier op boertjiefees
2010-08-17 09:22
Volksblad
Bloemfontein - Pres. Jacob Zuma gaan op spesiale uitnodiging deur die boere van Bultfontein die Boertjiefees op die dorp kom open.
Die boere het al ’n vers vir die president uitgekeer wat op die fees aan hom geskenk sal word.
Die kontreifees gaan vanjaar die wêreldkampioenskap vir Boerwindhonde, kannetjie-rugby, kaskarre en volkspele aanbied.
Herman Meiring, voorsitter van Bultfontein Landbou, het gesê hy het op ’n besoek aan Ace Magashule, die Vrystaatse premier, genoem dit sal gaaf wees as Zuma die dorp kan besoek.
“Hy het gevra of hy die president moet nooi. Hy het president Zuma net daar gebel en hy het dadelik ingewillig. Ons is nog net nie seker watter dag dit sal wees nie.”
Die Boertjiefees vind vanjaar van 2 tot 5 September plaas.
Zuma kan die dorp op Vrydag 3 of Saterdag 4 September besoek.
Linda du Plessis, hoofbemarker, het vroeër laat blyk die feeskomitee spook hard om al die deelnemers aan die trompoppies, rugby, netbal, stoei, sokker, gholf, bergfiets-, vierwiel-, motorfiets-, kaskar-, kameel- en 4x4-ren, volkspele, sterkmankompetisie en ander adrenalien- aksie saam te kry.
Meiring het gesê Jan Pienaar, die vorige streekbestuurslid van Vrystaat-Landbou, skenk die versie vir Zuma. Die boere het vroeër vanjaar ’n versie vir Magashule en elk van sy LUR’e gegee.
Daarby gaan ’n Bonsmara-bul van R40 000 ook geskenk word om van die beeste ’n teeltrop te maak. Die trop sal groei namate die boere se projek met politieke kalwers aangevul word. Die trop word hier op ’n plaas vir die politici gehou.
“Dit gaan oor die simboliek,” het Meiring gesê. “Ons wil hulle glad nie omkoop nie. Dit gaan daaroor dat hulle ook saam met ons na hul eiendom kyk.”
Die boere, die Vrystaatse regering en die munisipaliteit het vanjaar hande gevat om ’n modeldorp van samewerking te vestig.
- Volksblad