Zuma ken hoogste eer aan Natalie toe
2009-11-25 06:32
Marizanne Kok
Johannesburg - Die Kaapse swemmer Natalie du Toit gaan vroeg aanstaande maand deur pres. Jacob Zuma met die gesogte Orde van Ikhamanga (goud) vereer word.
Du Toit is in kennis gestel dat sy op 11 Desember die hoogste nasionale eerbewys aan ’n sportster sal ontvang vir haar “uitsonderlike prestasies in sport en ongeëwenaarde meriete”.
Sy is net die sewende mens wat op dié manier deur die president vereer word.
“Dis baie spesiaal. Enige toekenning is ’n wonderlike beloning, maar dis veral lekker dat alles wat ek bereik het deur die president erken en vereer word,” het Du Toit gister gesê.
Die orde word toegeken aan uitblinkers vir wat hulle in onder meer die kunste, letterkunde en sport in hul lewe vermag het, maar Du Toit het gesê sy het steeds te veel drome om dit as beloning vir ’n leeftyd se werk te beskou.
“Ek het steeds groot drome en baie doelwitte en gaan nie nou ophou werk daarvoor nie.
“Ek is nog lank nie klaar met terugploeg in sport – en veral my sport – nie.”
Du Toit was net 17 jaar oud toe haar linkerbeen onder die knie geamputeer is ná ’n ongeluk met haar bromponie.
Sy het haarself daarna as een van die wêreld se beste gestremde swemmers gevestig, maar ook haar droom verwesenlik om aan die Olimpiese Spele deel te neem.
- Die Burger