Zuma kap terug oor Shaik
2010-01-12 12:07
Johannesburg – President Jacob Zuma het nie ontken dat Schabir Shaik aansoek gedoen het om presidensiële kwytskelding nie, het sy woordvoerder Dinsdag gesê.
Dit kom nadat die DA Maandag heftig gereageer het kort ná Zuma tydens ‘n televisieonderhoud glo ontken het dat Shaik aansoek gedoen het om kwytskelding.
“Die president het meer as 300 aansoeke voor hom en het nog nie een van hulle gesien nie,” het Vincent Magwenya gesê.
Die Citizen het ook oor die voorval berig onder die opskrif: "Pardon me? Who's lying about Shaik request".
“Mense moenie stres oor dinge waaroor die president grondwetlike beheer het nie,” het Magwenya gesê.
Volgens Magwenya dien die debat rondom die presidensiële kwytskelding geen doel nie, omdat slegs Zuma kan besluit om ‘n kwytskelding toe te staan of nie.
“Die president is nie verplig om by enige tydlyn te hou nie. Hy sal sy tyd vat om deur die aansoeke te gaan en sal ‘n besluit neem wanneer hy al die feite en inligting in ag geneem het,” het hy gesê.
–Sapa