Zuma kanselleer vergadering met Zille
2011-09-06 15:48
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma het 'n vergadering met Helen Zille, DA-leier, om die nominasie van regter Mogoeng Mogoeng vir die pos van hoofregter te bespreek, gekanselleer.
"Dit is ons opregte aanbeveling dat pres. Zuma sy benoeming van regter Mogoeng terugtrek en ander kandidate oorweeg," het Zille Maandag gesê.
Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het Dinsdag gesê die president het Maandagmiddag Zille se versoek ontvang en indien hy meer duidelikheid wil verkry, sal hy haar nader.
"Hy bestudeer dit. Hy bestudeer al die reaksies. Op die oomblik is dit voldoende. Indien hy verdere duidelikheid benodig, sal hy haar nader."
Maharaj het gesê Zuma sal "wanneer die tyd reg is" besluit of hy Mogoeng gaan aanstel.
Mogoeng is onlangs deur Zuma vir die pos benoem nadat die voormalige hoofregter, Sandile Ngcobo, afgetree het.
Die Regterlike Dienskommissie (RDK) het Mogoeng die afgelope naweek ondervra oor sy geskiktheid vir die pos.
Die meerderheid van die RDK se lede het in ’n geheime stemming hul steun aan Mogoeng toegesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA