'Zuma is verhewe bo die wet'
2009-09-18 09:38
Pieter du Toit
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma is – “soos sy Amerikaanse ampsgenoot” – verhewe bo die reg en mag nie strafregtelik aangekla word terwyl hy as staatshoof dien nie.
So ’n vervolging kan daartoe lei dat die land se ganse grondwetlike raamwerk ondergrawe word omdat dit die beginsel van skeiding van magte sal aantas.
Dit is die Zuma-regspan se betoog in hofstukke by die hooggeregshof in Pretoria.
Die betoog is ingedien in antwoord op ’n aansoek deur die DA dat ’n besluit deur die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) in April om Zuma nie te vervolg nie, hersien word.
Helen Zille, DA-leier, het skerp daarop gereageer en gesê dit is nou duidelik wat die omvang van Zuma se bedreiging vir die Grondwet is.
“Die hofstukke bevat blatante onwaarhede. Sy argumente is duister en ondermyn die Grondwet,” het Zille gesê.
Regskenners bestempel sy argumente as “absolute onsin”, “vals” en “gevaarlik”.
Prof. Pierre de Vos, prof. Marinus Wiechers en adv. Paul Hoffman SC sê almal daar bestaan nêrens in die wet enigiets wat ’n staatshoof van vervolging kwytskeld nie.
Zuma wou nie gister tydens ’n mediakonferensie in Tuynhuys vrae daaroor beantwoord nie en het gesê hy laat dit in die hande van sy regspan.
Hy het egter gesê indien hy voor die howe gedaag word, hy wel sal verskyn “omdat niemand bo die reg staan nie”.
Die hofstukke, wat namens hom deur Michael Hulley, sy prokureur, ingedien is, skets egter ’n ander prentjie.
Daarvolgens glo Zuma dis nie in die openbare belang dat hy nou, terwyl hy reeds as president dien, vervolg word nie.
Zuma is verder oortuig die DA het geen gronde om betrokke te raak by ’n regsgeding teen hom nie.
Dié party “jaag duidelik sy eie politieke agenda na”, terwyl sy benadering nog altyd was om die regering, die ANC en ANC-politici “kwetterend” te kritiseer.
Verder sal dit neerkom op die inmenging van die regsprekende gesag by die uitvoerende gesag, een van die drie onafhanklike bene van die regering.
Dié argument hou volgens Wiechers, ’n grondwetkenner, De Vos van die Universiteit van Kaapstad en Hoffman van die Instituut vir Verantwoordbaarheid in Suider-Afrika nie steek nie.
Die reg van een been van die regering om oorsig te doen oor ’n ander been versterk juis hul onafhanklikheid en kom neer op wigte en teenwigte.
Hulle meen dit lyk of die strategie is om seker te maak die saak gaan eindelik na die konstitusionele hof toe.
Zuma stel eersdaags vier regters in dié hof, asook ’n nuwe hoofregter, aan.
Zille het gesê haar party sal “ten volle” op Zuma se hofstukke reageer.
“Dis belangrik om nie deur sy sjarme geflous te word nie. Dis ’n rookskerm waaragter die aanslag teen die Grondwet onverpoosd voortduur,” het sy in ’n verklaring gesê.
- Beeld