Zuma ‘in ’n politieke en juridiese knyptang’
2012-03-22 07:07
Kaapstad – Die politieke knyptang waarin pres. Jacob Zuma hom bevind, kan Donderdag duideliker blyk wanneer die ANC-jeugliga sy siening verwoord en Zuma ’n openbare vergadering in Middelburg, Mpumalanga, toespreek.
Die ANC-jeugliga, die mees uitgesproke teenstander van Zuma se pogings om in Desember as ANC-leier herkies te word, sal Donderdag sy reaksie bekend maak op die appèlhof se beslissing dat die besluit om in 2009 korrupsieklagte teen Zuma te laat vaar, hersien kan word.
Dit sal ’n groot verrassing wees as die jeugliga, wat adj.- pres. Kgalema Motlanthe tot ANC-leier verkies wil hê, nie dié nuutste stok gebruik om Zuma mee te slaan nie.
Zuma lewer Donderdagmiddag die volgende in sy reeks maandelikse openbare lesings oor voormalige ANC-leiers.
By verlede maand se lesing in die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad het die bloed gevloei toe ondersteuners van Julius Malema, uitgeskopte ANC-jeugleier, die gebeure ontwrig het.
Drie voorste regskenners het Woensdag aan Beeld gesê die staatshoof kan hom ook op regsvlak in ’n knyptang bevind. Hulle het wel verskil oor die waarskynlikheid dat daardie knyptang om hom kan sluit.
Die beslissing van die appèlhof is dat die DA toegang mag kry tot alle inligting wat gelei het tot die besluit om die vervolging te staak behalwe die betoë wat Zuma op voorwaarde van vertroulikheid verskaf het. Dit was ’n omstrede toegewing deur die vervolgingsgesag omdat dit die bruikbaarheid daarvan beperk.
As die hof uiteindelik bevind die staking van die vervolging op grond van die beskikbare inligting was korrek, is dit die einde van die saak.
As die inligting waartoe die DA toegang kry, egter te min is om die staking van vervolging te regverdig, kan die hof bevind die vervolging is onregmatig gestaak, waarna dit hervat sal moet word.
Dit kan Zuma voor die ongemaklike keuse stel om vervolg te word of om die betoë se vertroulikheidsvoorwaarde te laat vaar, wat die betoë se klaarblyklik sensitiewe inhoud aan die lig sal bring om hom uit die beskuldigdebank te hou.
’n Derde moontlikheid is dat die hof bevind die vervolgingsgesag se oordeel oor die vertroulike betoë moet tydens hersiening vertrou word, wat kan verhoed dat die knyptang om hom sluit.
Die regskenners is dit eens dat Zuma se regspan waarskynlik na die konstitusionele hof sal appelleer teen die appèlhofbeslissing – om dit dalk verander te kry en ter vertraging.
Dit sou strook met die stelling van adv. Kemp J. Kemp SC, Zuma se regsverteenwoordiger, dat ’n Stalingrad-tipe verdedigingsplan gevolg word, met verwysing na die manier waarop die Russe die Nazi-opmars van 1942 af gestuit het deur gebou vir gebou en straat vir straat weerstand te bied.
Intussen het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, gesê die president het “fenomenaal baie deurgemaak”, maar dat hy in beheer bly en dat die gebeure eie aan ’n ontwikkelende grondwetlike demokrasie is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger