Zuma het etiese kode oortree
2010-04-25 17:14
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma het wel die etiese kode vir lede van die uitvoerende gesag oortree deur nie sy bates voortydig bekend te maak nie.
Dit is die bevinding van 'n verslag deur die Openbare Beskermer, Thulisile Madonsela.
Volgens Madonsela se verslag het die president "nie betyds die tydsvereistes van die etiese kode vir lede van die uitvoerende gesag nagekom nie."
Sy optrede is 'n "oortreding van klousule 5.2 van die kode," lees die verslag.
Die verslag is reeds Woensdag aan die presidensie en die DA uitgereik, maar Madonsela het voorgestel dat die verslag eers aan die kabinet voorgelê word, en daarna aan die parlement.
Zuma het Sondag belowe dat sy kabinet die verslag sal bestudeer.
"Die verslag sal aan die kabinet voorgelê word vir bespreking, waarna die presidensie dit aan die parlement sal oorhandig," het die presidensie gesê.
Madonsela se verslag meen ook Zuma is nie die enigste skuldige in die parlement nie.
Volgens die dokument is daar 'n "patroon van kabinetslede wat hulself nie aan die vereistes van die kode onderwerp nie."
Zuma se lankverwagte lys van geskenke en finansiële belange is in Maart bekendgemaak.
Die verklaring was agt maande laat.
- Sapa