Zuma het al 250 000 oproepe gekry
2009-10-08 06:29
Pretoria. – Die langverwagte presidentslyn (17737) het sedert dit twee weke gelede oopgemaak het minstens ’n kwartmiljoen oproepe gekry.
Dié presidentslyn is gister amptelik deur pres. Jacob Zuma by die presidensiële gastehuis in Pretoria bekend gestel.
Met die afskop van die aanvoorprojek op 14 September vanjaar het die presidentslyn op die eerste dag 27 000 oproepe ontvang. Sedertdien ontvang die presidentslyn tussen 13 000 en 16 000 oproepe per dag.
’n Oproep duur gemiddeld tussen 17 en 19 minute.
Toe Zuma die skakelsentrum by die Uniegebou gisteroggend omstreeks 09:40 besoek het, het die presidentslyn reeds 2 482 oproepe ontvang. Altesaam 353 van dié oproepe is hanteer.
Zuma het gesê al die oproepe kan nie hanteer word nie omdat die stelsel oorvol is en mense in ’n ry moet wag om by ’n agent uit te kom. “Die hoë aantal oproepe wys mense het ’n begeerte om met die regering te praat,” het Zuma gesê. “Die regering is in gesprek met die nasie in elke taal in Suid-Afrika. Mense se probleme kry aandag, waar dit vroeër nie gebeur het nie.
“Op dié manier (met die presidentslyn) kan ons mense se lewe verander en vir hulle hoop gee.”
Altesaam 30% van die oproepe is uit Gauteng, terwyl die res grotendeels van Limpopo, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Wes-Kaap is.
- Die Burger