Zuma gee Kaapse vissers hoop
2009-10-19 06:50
Heindrich Wyngaard
Hawston - Pres. Jacob Zuma het gister hier ’n duidelike aanduiding gegee dat die verbod op perlemoenduik binnekort gedeeltelik opgehef kan word.
Sy kabinet sal die verbod, wat begin verlede jaar teen stropery ingestel is, “dringend” heroorweeg en binne ’n maand terugvoering gee.
Lede van vissersgemeenskappe van oor die Wes-Kaap heen het die aankondiging met groot entosiasme op ’n vergadering begroet.
Dié vergadering was deel van Zuma se naweek lange besoek aan die provinsie om veral onder bruin kiesers steun vir die “heropbou van die Wes-Kaapse ANC” te werf.
Onder diegene wat hom vergesel het, was me. Tina Joemat-Petterson, minister van landbou, bosbou en visserye, en me. Buyelwa Sonjica, minister van waterwese en omgewingsake.
Dr. Franklin Sonn, tussentydse provinsiale ANC-onderleier, sakeman en oud-ambassadeur, en Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu, was ook teenwoordig.
Zuma se besoek het ook die bywoning ingesluit van Tony Yengeni, ANC-hoë, se pa se begrafnis, vergaderings met godsdienstige leiers by Bishopscourt, en besoeke aan die Metodiste-kerk in Athlone en Anglikaanse kerk in Guguletu.
Die president het onderneem dat die verwarring oor wie nou eintlik na bestaansvissers se belange omsien – Joemat-Petterson of Sonjica – vinnig uitgeskakel sal word.
Die kwessie moet ter ruste gelê op dieselfde wyse “dat ek ’n einde gemaak het aan die debat oor die ministers wat verantwoordelik is vir die ekonomie”.
Maar Die Burger is uit mariene en kusbestuurskringe meegedeel dit is hoogs onwaarskynlik dat die regering aan die vissers se eis van ’n totale jaarlikse perlemoenkwota van 600 ton sal toegee.
Zuma het op die vergadering emosionele pleidooie vir regeringshulp van die gemeenskappe van Hawston, Hermanus, Arniston, Buffeljagsrivier, Kleinmond, Struisbaai, Gansbaai en die Weskus aangehoor.
Verskeie sprekers het beklemtoon dié gemeenskappe is benadeel “in die belang van bewaring” toe verskeie vissers se aansoeke om viskwotas in 2005 onsuksesvol was. Die nagenoeg 300 wat wel perlemoenpermitte gekry het, ly egter nou ook onder die verbod op perlemoenduik.
Zuma het gesê: “Dit is pynlik om te hoor die visbedryf is ’n gemeenskap se enigste bron van inkomste – en dit is nou weggevat.”
Onder die tussentydse maatreëls wat getref is om verligting aan vissers te bring, is uitbetalings aan kwotahouers oor hul aansienlike geldelike verlies weens die perlemoenverbod.
- Die Burger