Zuma-gedrag is slegte voorbeeld, sê opposisie
2011-08-05 09:10
Kaapstad - Harde klappe is Donderdag in die Wes-Kaapse parlement aan pres. Jacob Zuma uitgedeel, want sy gedrag stel na bewering ’n voorbeeld wat tot vroue se onderdrukking bydra.
Helen Zille, Wes-Kaapse premier, het in ’n debat oor Vrouemaand, met die tema “Vroue wat leierskap herdefinieer”, teen Zuma losgetrek.
“Ons moet die wortels van vroue se onderdrukking identifiseer en nie net pleisters daarop plak nie.”
Sy het gesê daar is mans in Suid-Afrika wat voel dit is hul reg om meer as een seksmaat te hê.
“Dit is die grootste rede vir vroue se onderdrukking, asook hoekom die MIV/vigs-pandemie vroue die ergste tref.”
Zille het Suid-Afrika se MIV/vigs-probleem aan ’n kultuur van talle seksmaats toegeskryf, en het gesê dit is die super-snelweg na MIV/vigs.
“Ons ontken nou meer as ooit tevore die rede vir vroue seonderdrukking en MIV/vigs. Die rede is eenvoudig. Ons ontken dit weens die voorbeeld wat sommige van ons leiers stel.”
Sy het gesê die kwessie van seks tussen ouer mans en jonger vroue dra ook tot die MIV/vigs-krisis by.
“Dit is ’n fundamentele aspek in die onderdrukking van vroue, en ons sal dit ontken solank ons president die voorbeeld stel, met die einste rede vir vroue se onderdrukking.”
Mcebisi Skwatsha, ANC-LPP, het Zuma verdedig en gesê Zille het geen eerbied vir mense se kultuur nie.
Zille het heftig gereageer. “Dit is niemand se kultuur om vroue nie te eerbiedig nie. Dit is niemand se kultuur om terselfdertyd talle seksmaats te hê nie. Dit is ’n belediging vir jou kultuur.”
Skwatsha wou weet of sy bedoel Zuma, met sy vier vroue, stel nie ’n goeie voorbeeld nie.
“Wat ek sê, is daar is mediese bewyse dat talle seksmaats terselfdertyd die MIV/vigspandemie aanwakker.
“Dit is die gevaarlikste wanneer iemand reeds talle seksmaats het, dan nóg iemand met MIV/vigs byvoegen sodoende ’n gevaar vir almal skep.
“(Pres. Jacob) Zuma se vier vroue het nie aan al 21 sy kinders geboorte geskenk nie.”
Zille was ook onder skoot oor haar manskabinet.
Vuyiwe Hani, ANC-LPP, het ’n beroep op Wes-Kaapse vroue gedoen om op te staan en hul demokratiese regte te beskerm, want dit kan nie aan Zille oorgelaat word nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger