Zuma gaan Mugabe spreek
2009-08-03 17:28
Johannesburg – President Jacob Zuma het Maandag gesê dat hy “baie ernstige sake” met sy Zimbabwiese ampsgenoot Robert Mugabe, oor hoekom Harare se magsverdelingsooreenkoms nie werk nie, bespreek.
Dit het gevolg op ‘n uur lange ontmoeting tussen Zuma en Morgan Tswangirai, Zimbabwe se eersteminister.
Daar is bewerings dat lede van Tswangirai se party deur sekuriteitsmagte van die staat, wat onder Mugabe se bewind is, geteister word.
Nie een van die leiers het die inhoud van hul gesprek bekend gemaak nie, maar Zuma het wel aan verslaggewers gesê: “Daar is ‘n paar kwessies wat moeilik is. Dis net ‘n paar, maar hulle is gewigtige kwessies.”
“Ek sal sy eksellensie president Mugabe, sowel as die leier van ‘n ander party (adjunk-eersteminister Arthur Mutambara) oor die kwessies wat die eersteminister opgebring het kontak,” het hy by ‘n nuuskonferensie gesê.
“Maar selfs hierdie kwessies lyk nie soos iets wat nie opgelos kan word nie,” het Zuma bygevoeg.
- Sapa