Zuma-familie kap terug
2010-06-03 20:23
Durban – Gerugte dat een van president Jacob Zuma se vroue ‘n verhouding met haar lyfwag gehad het, is nie deur Zuma se familie versprei nie, het ‘n woordvoerder gesê.
“Die president se familie distansieer hulself van die kwaadaardige gerugte rondom Nompumelelo MaNtuli,” het Khulubuse Zuma, “woordvoerder” vir die familie, in ‘n persverklaring* gesê.
“Geen lid van die familie kon die bron van hierdie inligting gewees het nie.”
Dié persverklaring is uitgereik nadat die Durbanse weekblad Ilanga Donderdag berig het oor verskeie onbevestigde beweringe wat in ’n brief aan die koerant gemaak is. Dié koerant vermoed die brief is deur lede van die president se familie geskryf.
Die brief bevat beweringe van ontrouheid, oneerlikheid, selfmoord en selfs vals kwalifikasies.
Die ernstigste bewering in die brief is dat MaNtuli, soos sy bekend staan, ’n buite-egtelike verhouding met haar lyfwag, Phinda Thomo van Dobsonville, Soweto, gehad het en dat die vaderskap van haar ongebore kind bevraagteken word.
Dit is verlede week bevestig dat die presidentsvrou swanger is.
Die onbekende briefskrywers beweer ook dat Thomo glo sy eie lewe geneem het toe die buite-egtelike verhouding op die lappe gekom het.
In die persverklaring wat Donderdagaand uitgestuur is word beweer dat hierdie gerugte ‘n aanval op die president en sy politieke loopbaan is.
“Dit is jammer dat die president se politieke vyande hulle nou voordoen as lede van sy familie.”
*Die geloofwaardigheid en bron van die persverklaring wat glo deur ‘n woordvoerder van die Zuma-familie uitgereik is kon nie deur Sapa bevestig word nie. Die verklaring is per faks aan Sapa gestuur. Verskeie pogings om Khulubuse telefonies te bereik, het misluk.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA