Zuma ernstig oor misdaad
2009-09-29 17:26
Pretoria - President Jacob Zuma het polisielede regoor die land aangemoedig om alles in hulle vermoë te doen om misdaad te bekamp, al beteken dit dat hulle misdadigers dood moet skiet.
Dit blyk dat Zuma ‘n geen nonsens benadering tenoor misdaad inneem, met die Wêreldbeker om die hoek. Vrese bestaan dat 2010 geteister sal word deur kapings, moorde en rooftogte.
Tydens ‘n vergadering Dinsdag met verskeie lede van die polisie en sekuriteitsbeamptes het Zuma veral klem geplaas op die uitdagings wat SAPD-lede in die gesig staar. Dit kom slegs ‘n week nadat die nuutste misdaadstatistieke verlede week bekendgemaak is.
“Wanneer die lewens van onskuldige burgers bedreig word, het die polisie soms geen ander keuse as om geweld te gebruik om hulself en onskuldiges te beskerm nie,” het Zuma aan sowat 1000 polisie stasiebevelvoerders gesê.
“Ons soek egter nie polisielede wat net links en regs gaan skiet nie.”
Volgens statistiek word daar daagliks sowat 50 mense in die land vermoor. Zuma het bygevoeg dat Suid-Afrika die omvang van die probleem moet erken en dat daar tot op die uiterste gegaan moet word om dit stop te sit.
–Reuters