Zuma en kie kry 7% verhoging
2009-11-12 18:01
Pretoria - Pres. Jacob Zuma het 'n 7% verhoging vir alle staatsamptenare goedgekeur, het die presidensie gesê.
"In die lig van die huidige ekonomiese situasie en die druk op die regering se finansies, het ek besluit om 'n verhoging van 7% toe te staan," het hy gesê.
Die onafhanklike kommissie vir die vergoeding van openbare verteenwoordigers het Donderdag aan joernaliste gesê 'n verhoging van 8% is regverdig.
"Ons waardeer die oorwegings van die kommissie om die 2009/10 vergoeding van staatsamptenare te bepaal," het Zuma gesê.
Die kommissie maak jaarlikse voorstelle wat verband hou met die salarisse, voordele, toelae en hulpbronne wat staatsamptenare benodig om hul werk effektief te doen.
Zuma het verder die kommissie geloof vir die deeglike wyse waarop hy sy werk benader.
Die verhogings sal terugdateer na 1 April 2009.
– Sapa