Zuma en Tutu maak vrede
2009-10-19 04:58
Philda Essop
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma en emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu het vrede gemaak.
Tutu het kort voor die April-verkiesings gesê hy kan nie voorgee hy sien uit na ’n Zuma-presidentskap nie.
Zuma het Saterdagoggend op ’n byeenkoms van geestelike leiers in Bishopscourt gesê Tutu het onlangs die vredesgesprek tussen hulle aangevoer. Zuma sou dit nie self kon aanvoer nie.
Hy het twee redes genoem. “Die aartsbiskop is soos ’n pa vir my. In my kultuur het my pa die reg om enigiets te sê. Hy het die reg om my uit sy huis weg te jaag – ek het geen reg om kommentaar te lewer nie.
“Dit is waarom ek nooit op die aartsbiskop se uitsprake kommentaar gelewer het nie.”
Zuma het nie gesê presies wanneer hy en Tutu vrede gemaak het nie.
“Dit is nie in Tutu se geaardheid om stil te bly wanneer hy dink iets is verkeerd nie,” het Zuma onder luide gelag gesê.
“As ’n jong man moet ek verstaan dat wanneer my pa kwaad is, kan hy glase breek. Maar dit beteken nie hy is ’n slegte mens nie.”
Zuma vertel: “Tutu het gesê: ‘Jy weet ek het goed oor Madiba gesê...’
“Ek het geantwoord: ‘Nie net Madiba nie, maar ook oudpres. Thabo Mbeki.’ Hoe kon ek dink ek is ’n uitsondering?”
“Hy (Tutu) het gesê hy sê dié goed omdat hy lief is vir ons en die land.
“Hy het gesê as hy my adviseur was, sou hy my gevra het: ‘Kan jy ophou om “Awuleth’ Umshini Wami” (“Bring my my masjiengeweer”) te sing?’ ”
–Die Burger