Zuma en Guardian bereik skikking
2009-07-30 14:37
President Jacob Zuma en The Guardian koerant het ‘n skikking bereik nadat hy hulle sowat drie maande gelede hof toe gesleep het vir naamskending.
Dit kom nadat die koerant ‘n artikel geplaas het waarin hulle Zuma se leierskap as “moreel besmet” beskryf het.
“Daar is ‘n skikking bereik,” het Hayley Dunlop, van die Britse koerant gesê. Sy kon nie die bedrag bekend maak wat hulle aan Zuma moes betaal nie.
Zuma het die eerste aanbod van £10,000 (R128,500) van die hand gewys. Hy het die koerant in April hof toegesleep nadat die artikel “Raak gewoond aan ‘n korrupte en chaotiese Suid-Afrika. Maar moet hulle nie afskryf nie” gepubliseer is.
In die artikel waarsku die joernalis, Simon Jenkins, “wanneer sake met Suid-Afrika gedoen word moet jy maar gewoond raak aan Zuma se regering-styl. Dit is moreel besmet en korrup.”
In die artikel word Zuma deur ‘n anonieme vriend van die skrywer beskryf as ‘n “krimineel en ‘n verkragter”.
Die koerant het dieselfde maand nog om verskoning gevra en gesê dat hulle nie bedoel het om Zuma as ‘n “verkragter” te beskryf nie.
–Sapa
Kliek hier om te sien hoe The Guardian vir Jacob Zuma om verskoning gevra het.