Zuma dink nou anders oor vigs
2009-10-30 09:03
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma het gister ’n ommeswaai in die regering se benadering tot die vigs-pandemie gemaak toe hy erken het die land verloor die oorlog teen die siekte.
Dit is ’n algehele ommekeer van oudpres. Thabo Mbeki se ontkennende standpunt oor MIV/vigs.
Zuma het in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gesê die probleem is só erg dat die sterftesyfer binnekort die geboortesyfer kan verbysteek.
Mark Heywood, direkteur van die Aids Law Project, het gesê dié organisasie, sowel as die Treatment Action Campaign (TAC), het Zuma se toespraak verwelkom.
“Dit was briljant! Die president was ferm en akkuraat oor die pyn en lyding wat die mense deurmaak. Hy was ook eerlik dat die land nie die stryd wen nie.”
Zuma het die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, opdrag gegee om volgende week ’n aankondiging te doen oor die uitwerking wat vigs op Suid-Afrikaners het.
“Ons mense moet bewapen wees met inligting. Kennis sal ons help om die ontkenning en die stigma rondom die pandemie te konfronteer.”
Hy het Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle te laat toets vir die virus. Zuma het gesê die vigssterftesyfer het met bykans 200 000 per jaar toegeneem.
In 2007 is daar 573 000 sterftes aangeteken en verlede jaar het dit opgeskiet tot 756 000. “Teen dié pas loop ons ’n ware gevaar dat die aantal sterftes binnekort geboortes sal verbysteek,” het Zuma gesê.
“Die geboorteregister toon in dié tydperk is daar net meer as 1,2 miljoen babas gebore.”
Zuma het gesê die aantal jong vroue wat in die fleur van hul lewe sterf, is selfs meer skokkend.
Die lewensverwagting van ’n Suid-Afrikaanse man was in 2006 om en by 51 jaar teenoor 70 jaar in Algerië en 60 in Senegal.
’n Onlangse verslag van die departement van gesondheid toon elke 6 uit 12 sterftes in 2006 was mense jonger as 50 jaar.
“Dié is maar enkele van die skok-statistieke wat wys watter verwoestende uitwerking vigs op ons nasie het. Nie eens die jongste een word gespaar nie.”
Navorsing toon dat 57% van alle kindersterftes onder vyf jaar in 2007 weens vigs was.
Die situasie word vererger deur die hoë voorkoms van tuberkulose (TB).
Die gesamentlike infeksiekoers van MIV en TB het reeds ’n aardskuddende 73% bereik. Statistieke toon dat die aantal mense met TB tans op 481 584 staan.
Hy het benadruk dat hoewel die land ’n omvattende strategie vir vigs het, wen hy nie die stryd nie.
Die nasionale vigsraad, onder leiding van adj.pres. Kgalema Motlanthe, sal maatreëls saamstel om bestaande vigsbekampingsprogramme te versterk.
“Ons moet harder werk met hernude fokus om ’n strategie toe te pas wat saam ontwikkel is.
“Alle Suid-Afrikaners moet besef dat hulle die gevaar loop en moet ingeligte besluite neem,” het Zuma gesê.
- Volksblad