Zuma dalk weer in hof
2011-09-07 08:07
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma se voorkeur vir regter Mogoeng Mogoeng as hoofregter kan hom die soveelste keer in ’n regstryd dompel.
Zuma het teen gisteraand nog nie amptelik sy besluit oor Mogoeng aangekondig nie en die meeste regskenners en politici het nog die kat uit die boom gekyk voordat hulle verdere stappe oorweeg.
Intussen het Zuma ure nadat hy eergister ingestem het om met die DA-leier, me. Helen Zille, in Pretoria te vergader, dié afspraak gekanselleer.
Die DA-LP mnr. Hendrik Schmidt het by navraag aan Volksblad gesê as Zuma Mogoeng wel as hoofregter aanwys, oorweeg die DA dit sterk om ’n onafhanklike regsmening in te win ten einde die besluit in die hof te toets.
In ’n regsmening wat die organisasie Freedom Under Law ingewin het, word voorgestel dat die Grondwet straks aangepas moet word om die konsultasieproses duideliker uit te stippel.
“Ons sou wou weet of die proses, sonder om die Grondwet te wysig, wel reg gevolg is,” het Schmidt gesê.
Die president se woordvoerder, mnr. Mac Maharaj, het gesê Zuma is tevrede met die voorleggings wat hy van politieke partye en belangegroepe ontvang het.
“Hy bestudeer die voorleggings en dit is vir eers voldoende.
“As verdere inligting benodig word, sal ons na die politieke partye teruggaan.”
Zuma is Maandagaand deur adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke ingelig oor die uitslag van die Regterlike Dienskommissie (RDK) se onderhoud met Mogoeng die naweek.
Luidens bronne het die RDK met ’n meerderheidstem sy steun aan Mogoeng toegesê.
Zille sou Dinsdag aand met Zuma vergader het in ’n laaste poging om hom te oortuig om Mogoeng se benoeming terug te trek en nog kandidate te oorweeg.
Op die vraag aan Maharaj of hy glo daar is enige ruimte vir regstappe weens swakhede in die benoemingsproses, het hy gesê die president is behoorlik deur die staatsregsadviseurs van raad bedien.
Oor die feit dat ’n ander besluit van Zuma – om oudhoofregter Sandile Ngcobo se termyn te verleng – onlangs as ongrondwetlik verklaar is, het Maharaj gesê: “Nee, nee, nee. Jy kan nie ’n gevolgtrekking hieruit maak nie...
“Daar is baie voorbeelde waar die regering in die hof verkeerd bewys is én waar hy reg bewys is.
“Daar is niemand wat kan sê hierdie is die wet en basta nie – net ’n hof kan dit doen.”
Intussen het die ANC die feit dat Zuma die vergadering met Zille gekanselleer het, verwelkom.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad