Zuma bevorder korrupsie, sê IVP
2013-01-15 09:22
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma spoor sakeondernemings aan om die ANC vir eie gewin te ondersteun en sodoende korrupsie te bevorder, het die Inkatha Vryheidsparty gesê.
“Dit is skandalig dat die president van Suid-Afrika só ‘n bewering maak, wat daarop neerkom dat hy korrupsie aanmoedig in ‘n tyd wanneer Suid-Afrika deur hierdie vloek geteister word,” het Joshua Mazibuko, woordvoerder van die IVP, in ‘n verklaring gesê.
“Die president het, eenvoudig gestel, sakemanne vertel sakegeleenthede en voorspoed in hierdie land kan slegs gewaarborg word as hulle by die ANC aansluit.”
Mazibuko sê dis duidelik dat die regerende party nie meer toegewyd is om die land te dien nie.
“Die IVP doen ‘n beroep op die sakegemeenskap in hierdie land om nie aan te sluit by enige program wat korrupsie aanmoedig nie. Ons doen boonop ‘n beroep op die ANC om hom van hierdie betreurenswaardige stelling te distansieer...”
Sunday Times berig die president het sakemanne belowe dat diegene wat die ANC ondersteun, se fortuin sal vermenigvuldig.
“Ons dwing nie mense nie... jy kan ondersteun of ‘n ondersteuner wees, maar as jy verder as dit gaan en ‘n lid word [en] as jy ‘n sakeman is, sal jou besigheid vermenigvuldig,” het hy die naweek by die ANC se 101ste verjaardagvieringe gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA