Zuma, Zille en De Lille sê wat hulle wens vir ’11
2010-12-31 07:47
Beeld
Kaapstad. – Suid-Afrikaners sal 2010 altyd onthou vanweë die suksesvolle aanbieding van die WB 2010 en hulle moet in die komende jaar op die positiewe gees, samehorigheid en patriotisme wat in dié tyd geheers het, voortbou.
Só het pres. Jacob Zuma gister in sy Nuwejaarsboodskap gesê en Suid-Afrikaners weer bedank vir hul aandeel in dié suksesvolle toernooi.
Die regering beplan om die projekbestuurlesse wat uit die toernooi geleer is, te gebruik om sy dienslewering te verbeter. Die land sal daarop moet fokus om die ekonomie uit te brei en meer werk te skep, het Zuma gesê.
“Ons weet die Nuwejaarswens vir baie Suid-Afrikaners is om ’n werk te kry – só ook die honderde gegradueerdes van universiteite en kolleges.
“Dit is ook die droom van baie Suid-Afrikaners wat hul werk in die wêreldwye ekonomies resessie verloor het.”
Helen Zille, Wes-Kaapse premier en DA-leier, het alle Suid-Afrikaners voorspoed toegewens met die nuwe jaar. “Mag die komende jaar een wees waarin ons almal daarna strewe om ons doelwitte te bereik en uit ons sukses en mislukkings leer,” het sy gesê.
Cope sal vroeg in die nuwe jaar weer poog om ’n nasionale kongres te hou nadat sy kongres vroeër vandeesmaand in chaos geëindig het. Philip Dexter, ’n Cope-woordvoerder, het gesê 2011 is ’n jaar waarin die party sy aandag op die mense gaan fokus.
Patricia de Lille, OD-leier, meen daar was die afgelope 16 jaar baie verbeterings en veranderings in die land – ongelukkig is daar nie “ware leiers” wat regtig omgee vir sosiaal-ekonomiese kwessies nie.
Sy hoop die bestryding van armoede sal in 2011 ’n prioriteit wees. “Daar was al baie planne teen armoede, maar praktiese optrede is nou nodig.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld