Zuma: Vakbonde kan nie weermag beheer
2009-09-17 19:22
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma sê soldate se reg om aan 'n vakbond te behoort plaas die land se sekerheid in gedrang.
"Jy kan jou net indink wanneer Suid-Afrika aangeval word en soldate het griewe en begin staak," het Zuma Donderdag aan verslaggewers by Tuynhuys gesê.
"Soldate is nie soos ander werkers nie. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag mag die publiek bedien, maar hulle is nie openbare dienaars nie. Dit sal baie snaaks wees as ons sê die land se sekerheid lê by die vakbonde."
Zuma het gesê 'n uitspraak deur die konstitusionele hof in 1998 dat alle werkers die reg het om aan kollektiewe bedinging deel te neem, is nie in klip gekerf nie.
"Ek het al oor en oor gesien hoe uitsprake hersien word."
Hy het gesê werksgriewe van die SANW moet aangespreek word , maar het voorgestel dat 'n onafhanklike dienskommissie wat verlede week aangekondig is, die geskikte platform sal wees.
– Sapa