Zuma: Onderwys is nr.1 prioriteit
2009-08-07 12:03
Durban - Pres. Jacob Zuma sê onderwys is die nommer een prioriteit vir sy administrasie.
Zuma het Vrydag in Durban tydens sy besoek aan die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum aan sowat 1500 skoolhoofde gesê die regering gaan ‘n nuwe stelsel bekendstel om die onderwys en bestuur in skole te verander.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, dr. Blade Nzimande minister van tersiêre onderwys, en die provinsiale ministers van onderwys het ook dié konferensie bygewoon.
Die konferensie is daarop gemik om skoolhoofde ‘n geleentheid te gee om die president van probleme wat hul skole raak, te vertel.
Zuma het gesê hy wou skoolhoofde regoor Suid-Afrika ontmoet, maar is gesê dat dit onmoontlik is omdat Suid-Afrika 27 000 skoolhoofde het.
Hy het gesê die vergadering is ‘n bewys dat wonderlike beleide wat sedert 1994 geïmplementeer is, nie swak dienslewering aan armes tot gevolg gehad het nie.
“Die vraag wat ons vandag moet beantwoord is hoekom ons beleide nie uitstekende onderwys lewer nie en wat ons daaromtrent gaan doen.”
Zuma het gesê die belangrikheid van onderwys in sy administrasie word gedemonstreer in die feit dat die departement van onderwys in basiese- én hoëronderwys verdeel is.
Hy meen die mini-imbizo is die bekendstelling van ‘n voortdurende interaksie met skoolhoofde en belangrike rolspelers in die departement.
– Sapa