Zuma: Laat 2010 besoekers tuis voel
2009-12-01 21:22
Kaapstad - President Jacob Zuma het Dinsdag Suid-Afrikaners aangemoedig om goedgesind teenoor die sokkeraanhangers te wees wat volgende jaar na die land gaan stroom vir die 2010 Wêreldbeker.
Sowat 45 000 besoekers word vir die maand lange sokkertoernooi verwag, waar baie van hulle nie weet wat om te verwag van ‘n land waar die misdaad buite beheer is nie.
Zuma het gedurende ‘n nuuskonferensie gesê hy wil graag hê hulle moet terug huis toe gaan sonder enige klagtes.
Hy vra dat alle Suid-Afrikaners hulle met ope arms moet verwelkom.
"Betoon liefde teenoor hulle, wees gasvry en wees gaaf met hulle. Hulle is ons vriende. Kom ons wys vir hulle wie ons is en hoe trots ons as ‘n nasie is."
“Laat hulle tuis voel in alle opsigte.”
'n Suksesvolle toernooi is baie belangrik vir Suid-Afrika, omdat die land met die Wêreldbeker toevertrou is.
Dit was tot dusver nie ‘n maklike tyd vir die organiseerders nie aangesien die land swaar onder kritiek deurgeloop het oor Suid-Afrika se vermoë om ‘n wêreldbeker aan te bied.
Die bou van die stadions is so te sê voltooi, maar vrese oor die vervoer van die land, ‘n tekort aan verblyf én sekuriteit, is steeds van die groot struikelblokke wat voorlê.
-AFP