Zuma: Dit ís my kind
2010-02-03 19:25
Johannesburg – President Jacob Zuma het Woensdag sy verhouding met Sonono Khoza bevestig en ook erken dat hulle ‘n kind saam het.
“Ek het tydens Wêreldvigsdag gesê dat ons almal verantwoordelikheid vir ons aksies moet neem. Dit is wat ek nou doen. Ek het nou ook aan die nodige kulturele vereistes van hierdie situasie voldoen. Ek het erken dat dit my kind is en ek het inhlawulo aan die familie betaal,” het Zuma in ‘n persverklaring gesê.
“Die saak is nou tussen die twee van ons en kultureel tussen die Zuma- en Khoza-families.”
Zuma was ontsteld oor die feit dat die media die kind se ma se naam bekendgemaak het en haar “aan die publiek ontbloot het”. Volgens hom het dit verskeie effekte in die langtermyn op Khoza.
“Die media maak geld hier uit. Hulle bevraagteken die kind se reg om te bestaan en so sy reg om te leef. Dit is jammer dat die kwessie op hierdie wyse hanteer is.”
Die Sunday Times het berig dat Zuma ’n kind verwek het by Sonono Khoza (39), dogter van mnr. Irvin Khoza. Laasgenoemde is voorsitter van die plaaslike reëlingskomitee vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi en ’n jare lange vriend van Zuma.
Die kind was glo op 8 Oktober gebore, slegs drie maande voordat Zuma met sy vyfde vrou getrou het.
Dié babadogtertjie is glo Zuma se twintigste kind.
’n Afvaardiging van KwaZulu-Natal het glo in Desember namens Zuma met die Khoza-familie beraadslaag oor skadevergoeding ingevolge die Zoeloe-tradisie wanneer ’n kind buite die eg gebore word.
Die Times het Woensdag berig dat hulle glo bewyse het wat daarop dui dat Zuma en Khoza glo reeds getroud is.
– Sapa