Zuma: Debat oor ras nie gewens
2009-08-16 12:30
Erna van Wyk
Johannesburg - ’n Debat oor ras is nie gewens nie, het pres. Jacob Zuma die afgelope week gesê in een van die min kere wat hy direkte leiding oor ’n kwessie gegee het.
Zuma het ook die ANC se beleid van nie-rassigheid verdedig. In ’n onderhoud met ’n Engelse dagblad het hy gesê hy glo nie ’n debat oor ras is nodig nie. “Ons moet nie-rassigheid bevorder. As ons begin sê ‘kom ons praat oor ras’ dink ek ons is besig om agteruit te boer”.
Hy het wel mnr. Julius Malema, die ANC-jeugleier wat die debat probeer ontlok het, wel effe verdedig deur te sê: “Hy is jonk en hy leer nog.”
Dit het gebeur nadat Malema onlangs Zuma se keuse van ministers van ekonomiese sake skerp gekritiseer het omdat hulle almal uit minderheidsgroepe kom.
Op ’n vraag oor die aanstelling van me. Gill Marcus as die nuwe president van die Reserwebank het Malema aan joernaliste gesê: “Ons (swart mense) kan nie net tot die poste wat met veiligheid verband hou, beperk word nie terwyl die minderhede die belangrike kwessies van die ekonomie hanteer nie.
“Die ministers van polisie, intelligensie en justisie – hulle is almal Afrikane. Maar in die ekonomiese portefeuljes is hulle almal uit minderhede”.
Malema het verwys na ministers Pravin Gordhan (finansies), Ebrahim Patel (ekonomiese ontwikkeling) en Rob Davies (handel en nywerheid).
Malema het gesê swart mense moet in die poste wat met die ekonomie verband hou aangestel word sodat daar vertroue gebou kan word dat “Afrikane ook bevoeg is om strategiese poste in die ekonomiese portefeuljes te beklee”.
Zuma se kantoor Malema vroeër die week ’n les gegee oor hoe die regering werk. In ’n verklaring is dit duidelik gestel dat die regering se ekonomiese werkgroep nie net uit die bogenoemde drie ministers bestaan nie, maar dat 19 ministers en adjunk-ministers deel hiervan uitmaak. Dit sluit in landbou, kommunikasie, arbeid, openbare werke en energie.
Dit het intussen aan die lig gekom dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee die kwessie twee weke gelede bespreek het en dat Malema ondersteuning gekry het van ministers Nathi Mthethwa (polisie) en Lindiwe Sisulu (verdediging), asook die voormalige ANC-hoofsweep mnr. Tony Yengeni.
- Rapport