Zuma: Bly weg van vakbonde
2009-11-20 07:06
Pieter du Toit
Kaapstad - Die bevel aan die tussentydse militêre dienskommissie (MDK) om weg te bly van vakbonde kom oënskynlik reguit van pres. Jacob Zuma.
En in teenstelling met die algemene opvatting dat hy onwrikbaar is oor die afskaffing van vakbonde in die weermag, is dit skynbaar ’n poging om openbare diskoers daaroor in die kiem te smoor.
Volgens inligting vind gesprekvoering oor die kwessie tans tussen die ANC en Cosatu plaas en is aanduidings dat die regerende party en die regering sy standpunt versag. Indien daar tot ’n vergelyk gekom kan word oor hoe vakbonde in die toekoms binne die weermag sal funksioneer, is die kanse goed dat Zuma die kwessie net van die radar sal laat verdwyn, het ’n bron na aan die proses gister verduidelik.
Dít staan egter in skrille kontras met ’n bevel vroeër vandeesmaand aan die tussentydse militêre dienskommissie (MDK) om nié enige kwessies rondom vakbonde te ondersoek nie, omdat Zuma “reeds besluit het” om hulle die weermag te verbied.
Die MDK se mandaat is skielik deur Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, in ’n e-pos aan regter Ronnie Bosielo, MDK-voorsitter, verander. Sy het hom ook daarin uitdruklik beveel om weg te bly van vakbonde af.
Dié e-pos, waaruit Bosielo ná ’n vergadering eergister met LP’s voorgelees het, lui: “Die president, as opperbevelvoerder, het met die steun van die kabinet verklaar vakbonde moet die weermag so gou moontlik belet word. Geen persoon het die gesag om dié bevel teen te gaan nie. Dit is wenslik (dat die MDK) so ver moontlik wegbly van vakbondkwessies.”
Hoewel dit aandui die besluit oor die toekoms van vakbonde is reeds geneem, is dit glo ’n poging om die kwessie in die hande van Zuma eerder as die MDK s’n te plaas.
Bheki Mvovo, president van die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte-unie (Sasfu), het gister gesê die regering kan vakbonde onmoontlik verbied. “Die land se hoogste hof het reeds beslis soldate het die reg om aan vakbonde te behoort. As die ANC dit wil doen, sal hy die Grondwet moet verander. Hy het nie die mandaat daarvoor nie en sal groot teenstand kry.”
Intussen het Sisulu gesê sy gaan nie die MDK se tussentydse verslag – wat die haglike omstandighede skets waarin soldate verkeer – bekend maak nie. ’n Woordvoerder het gesê sy wag vir die MDK se finale verslag in Desember, waarna dit ’n openbare dokument sal wees.
-Die Burger