Inkomstegaping groei nié, sê Zuma
2012-11-01 18:00
Kaapstad – Bewerings dat die gaping tussen ryk en arm in die land besig is om te vergroot, is onwaar, het pres. Jacob Zuma Donderdag gesê.
Zuma, wat afgevaardigdes by die amptelike opening van die nasionale huis van tradisionele leiers in die parlement toegespreek het, het gesê bewerings van 'n groeiende inkomstegaping is ‘n leuen wat die afgelope 18 jaar verskeie kere herhaal is.
“Ons begin dit amper glo dat die gaping sedert 1994 vergroot het. Dit is nie wetenskaplik korrek nie,” het Zuma gesê.
Zuma het gesê dié bewerings word net gemaak om die regering onregverdig te kritiseer.
Hy het bygevoeg dat daar voor 1994 nie ‘n ware meting van die gaping kon wees nie, omdat net wit mense tydens die sensus getel was.
“Ons (swart mense) is na die tuislande toe gedruk. Ons is nie getel nie en ons het nie eens geweet hoeveel ons is nie.”
Zuma het daarop aangedring dat die gaping tussen ryk en arm eintlik verklein het.
Hy het gesê swart mense is voor 1994 nie toegelaat om aan die hoofstroomekonomie deel te neem nie, maar dat daar nou baie swart ondernemings op die effektebeurs is.
“Armoede was erger voor 1994 as wat dit nou is. Mense kry nou toelaes wat hulle nie voorheen gekry het nie. As dit nie die gaping verklein nie, wat gaan dit dan doen?”
Zuma het ook gesê die regering is besig om mense se lewensgehalte te verbeter.
“Mense wat vir die koerante skryf is geleerde mense en ons aanvaar wat hulle skryf is waar. Dit is propaganda, wat baie gevaarlik is.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA