Zuma: Apartheid wys wêreld kan saamspan
2009-09-24 05:03
New York - President Jacob Zuma het Woensdag gesê die beëindiging van apartheid dien as ‘n voorbeeld van hoe die wêreld saam kan werk om probleme op te los.
In sy eerste toespraak aan die Verenigde Nasies (VN) se beraad in New York, het Zuma gesê soortgelyke oplossings en samewerking kan gebruik word om die ekonomiese krisis, klimaatsveranderinge, en armoede reg oor die wêreld aan te pak.
"Die rol van die VN in die beëindiging van apartheid is ‘n voorbeeld van die gesamentlike politiese wilskrag van die internasionale gemeenskap. Dit verteenwoordig die triomf van eenheid oor verdeeldheid, van onderhandeling oor konfrontasie,” het Zuma gesê.
Zuma het ook ‘n beroep op ontwikkelde lande gedoen om nie die ekonomiese krisis as ‘n verskoning vir ‘n tekort aan vondse aan armer lande te gebruik nie.
Hy sê Afrika het in die afgelope jare baie vordering gemaak in pogings om konflik op dié kontinent te beëindig en hy het druk op ander lande geplaas vir meer ondersteuning.
- Sapa