Zuma: ANC moet waardes en dissipline herstel
2012-01-08 22:46
Bloemfontein – Die ANC sal in 2012 dringende en praktiese stappe neem om sleutelwaardes en politieke dissipline in die party te herstel, het president Jacob Zuma Sondag gesê.
Zuma het tydens die ANC se verklaring by die party se eeufees gesê dat die party verskeie stappe sal neem om dit te hernu en te struktureer vir die toekoms.
“Ons sal dringende en praktiese stappe neem om die sleutelwaardes te herstel, om die faksievorming uit te roei en om politieke dissipline te bevorder,” het hy gesê en het ‘n harde applous gekry.
Ander aspekte waarna die party sal kyk is om sy fundamentele strukture nuwe lewe te gee.
Hy het Suid-Afrikaners aangemoedig om te begin praat oor die toekoms van die land, met die party wat voorberei vir sy beleidskonferensie in Junie en sy 53ste Nasionale Konferensie in Desember 2012.
Die debat moet gebaseer wees op ‘n vasbeslotenheid om ‘n samelewing te bou wat omgee en wat werklik nie-rassisties, nie-seksisties, demokraties, voorspoedig en saamgebind is in sy diversiteit.
Zuma het bygevoeg dat die land dringende antwoorde kort vir aspekte soos werkloosheid, armoede en ongelykheid.
“In die volgende dekade sal beide die ANC en al die staatsorgane ononderbroke aandag moet gee om uitdagings te oorkom.”
Hy het ook gesê die party sal sy interne stelsels en prosesse hernu om sodoende nuwe generasies van leierskap op te lewer wie se integriteit nie bevraagteken word nie.
In die party se verklaring het die ANC gesê dat hy ook sy leierskap-verkiesingstelsel sal hersien om interne demokrasie en sy reputasie te verbeter.
– Volg Nuus24 op Twitter