Zim-vrou verwurg glo haar baba
2010-12-29 12:32
Johannesburg - 'n Zimbabwiese vrou wat na bewering haar babadogter verwurg het is in Ivory Park, Johannesburg, in hegtenis geneem, het die polisie Woensdag gesê.
Die 18-jarige ma het Maandag, 20 Desember geboorte geskenk aan die baba, en haar na bewering op Oukersaand verwurg, het insp. Neldah Hlase gesê.
Die baba se lyk is later in 'n drein in Kaalfontein, Ekhuruleni, gegooi.
"Sy het teruggegaan huis toe en vir haar man gesê dat die baba in die hospitaal dood is."
Die man het later met die hospitaal in verbinding getree en besef die storie is nie waar nie.
Die polisie is in kennis gestel.
Hlase het gesê die vrou het Dinsdag aan die polisie gewys waar sy van die baba se lyk ontslae geraak het.
"Sy het gesê sy het die baba weggegooi omdat dit nie haar man se kind was nie."
Die vrou sal in die Tembisa-landdroshof teregstaan op aanklag van moord.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA