Zille werp lig op Gupta-skenkings
2013-01-30 18:01
Kaapstad – Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie, het Woensdag lig gewerp op skenkings van R400 000 van ‘n vennoot van die Gupta-familie en een van hul maatskappye.
Zille het nie in die parlement aan verslaggewers ontken dat sy ‘n brief geskyf het wat in The New Age (TNA) gepubliseer is waarin sy Atul Gupta bedank vir ‘n donasie aan haar party nie.
TNA word deur die Guptas besit en hulle het glo bande met pres. Jacob Zuma.
Zille het verduidelik dat die brief gestuur is voordat sy in kennis gestel is van ‘n skenking van R200 000 wat in 2009 ontvang is vir die party se verkiesingsveldtog. Die skenking was van Stefan Nel, ‘n uitvoerende direkteur van Sahara Computers.
Die Guptas besit Sahara en Atul Gupta is die maatskappy se besturende direkteur.
Zille sê sy was onder die indruk dat die tjek van Sahara gekom het en nie van Nel persoonlik nie.
Zille het tot nou toe nie die skenker se naam genoem nie en sê dit is uit ‘n belofte om vertroulikheid te behou.
Zille sê Nel het later nog ‘n tjek van R100 000 aan die DA uitgereik. Die party het ook ‘n elektroniese oorplasing van R100 000 van Islandsite Investments, wat ook met die Gupta-familie verbind word, ontvang.
Zille hou vol daar is niks fout met die skenkings nie, aangesien daar geen skandaal rondom die Guptas was toe die geld in 2009 en vroeg in 2010 ontvang is nie.
Sy het die DA se fondsinsameling-departement later beveel om “niks met die Gupta-familie of enige van hul maatskappye te doen te hê nie”.
“Vroeg in 2011, toe ek begin bekommerd raak het dat hulle [die Guptas] geld aan die DA skenk via mnr. Nel, het ek opdrag gegee, dit is in die lêer, dat daar geen meer fondse van mnr. Nel ontvang mag word nie... Dit is alles op rekord.”
Zille het gesê die DA sal niks van die geld teruggee nie.
Zille het ook Woensdag gesê sy wil hê ‘n onafhanklike ondersoek moet gedoen word in die befondsing van TNA.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA